Kennis geskied hiermee in terme van die Raad se bevoegdheid soos bepaal in Artikel 155 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996 dat nominasies ingewag word vir die aanstelling van ses (6) persone vir die Swellendam Estetiese en Bewaringskomitee.

Die Estetiese en Bewaringskomitee het ten doel om as waghond op te tree en om advies te lewer oor die estetiese en kulturele bewaring van ons straatlandskappe, geboue, terreine en die kwaliteitsomgewing soos omskryf in die wet op Nasionale Erfenishulpbronne, 1999 (Wet 25 van 1999).

Om aan genoemde vereistes te voldoen moet lede van die komitee oor toepaslike vaardighede, bevoegdhede en insig beskik. Belangstellendes moet hulle nominasies motiveer en redes gee waarom hulle op die komitee wil dien. Opleiding en/of vaardighede en/of bevoegdhede moet duidelik uitgestip word en hulle aansoek vergesel.

Die aanstellings sal deur die Swellendam Munisipale Raad gedoen word. Lede van die komitee sal op ‘n vrywillige basis dien, vir ‘n periode van 3 jaar, waarna die tydperk verleng kan word.

Nominasies, duidelik gemerk “Nominasies vir Swellendam Estetiese en Bewaringskomitee”, moet die Waarnemende Munisipale Bestuurder voor of op 19 September 2022 om 12h00 bereik. Nominasies kan gepos word aan die Waarnemende Munisipale Bestuurder, Posbus 20, Swellendam, 6740 (Aandag: M. Swart), of afgelewer word by die Munisipale Kantore, Lindstraat 13, Swellendam, of elektronies versend word aan e-pos: mswart@swellendam.gov.za.

Enige persoon wat nie kan lees of skryf nie, sal gedurende gewone kantoorure by Munisipale kantore deur Munisipale beamptes bygestaan word, om sodanige nominasie op skrif te stel en voor te berei vir indiening.

A. VORSTER
WAARNEMENDE MUNISIPALE BESTUURDER

Kennisgewing nr: S60/2022

19 Augustus 2022